'n Glas yskoue water (met 'n pikante suurlemoentjie in... o ja en moenie die ys vergeet nie) staan op my lessenaar. Daar staan werklik nooit "beverages" op my lessenaar nie.... Hoekom? Ek is gefokus en ongelooflik perfeksionisties. (Mooi Dan, wie flous jy nou eintelik?) Nee, die eintelike rede is dat ek soms (al is ek hoe perfeksionisties) baie lomp en verstrooid is, en my klein tegnologiese "heelal" staan ook dag na dag op die lessenaar.
Rustig sit ek en organiseer hierdie klein "tegnologiese heelal" voor my, met die glas water tussen my arm en die laptop (skaars 9 maande oud). Ek moet dalk ook net noem dat my refleks reaksies nogal op standaard is, ongelukkig nie so op standaard dat ek in beheer is daarvan nie. Die volgende het ongelooflik vinnig gebeur: Ek het geskrik (vir wat weet ek nie), my hand het vorentoe geskiet, ek het dadelik opgespring, 'n redelike getal kragwoorde het op die heilige Sondag my mond verlaat, ek het die glas weggestamp, die laptop afgesit, uitgeplug en dit omgekeer en probeer droogmaak. Dit is ongelukkig steeds "kop-onderstebo" op die handoek - nou nie meer in een stuk nie.
Ek voel soos 'n IDIOT!
Ja, nie omdat ek die water omgestamp het nie, maar eerder omdat ek nou al my foto's, werkstukke en 'n hele paar persoonlike files kwyt is. Ek het net vandag besef dat ek verkieslik na Travis (dit is nou my gewete/ die stem in my kop/ wat jy hom nou ook al wil noem) moet luister, hy het inderdaad aan my genoem dat ek nie water na my lessenaar hoef te neem nie - aangesien ek nie eers werklik dors was nie!
No comments:
Post a Comment